Charlotte
Helen Cupido nee Bushby was born in 1921, began her teaching career in Wellington's Bovlei, and
taught in the Drakenstein Valley for 50 years before retiring. She lives in Wellington.
Toe Penzstraat nog Verlatenkloof was, onderhoud met Marguerite Lombard, Paarl Post 27 June 2008. Lees verder
Vra
na die ou paaie, by Charlotte Helen Cupido nee Bushby, FX DPI,
Wellington 2003. Available at Wellington
book shops, Wellington Museum and at Ouma Granny's
House.
"Die kombuis het koerantpapier teen die muur gehad. Pragtig getand uitgeknip. En daaraan het die potte en panne en bekers blink geskuur gehang. Misvloer, met kleirandjie. Elke week word die mis in die vlei opgetel .."
Waarom het jy die boek geskryf? Ek het besef dat baie mense nie die wonderlike ryk verlede van my dorp en sy mense ken nie, ou gebruike en lekker tye wat vir altyd verlore sal wees. My suster Ruth het altyd as ek iets so diep uit die verlede opgrawe, vir my gesoebat om dit neer te skryf. 1921 - my geboortedatum - strek ver terug. Ek het wonderlike mense geken wat my help vorm het. Ou geboue wat ek geken het, is vandag nie meer daar nie. Ou gebruike het uitgesterf. Ek het daarvan neergeskryf.
Jy het helder herinneringe van toe wit en bruin saamgebly het in Fonteinstraat, waar Silwerkruin vandag staan, en ook om die draai, Bainstraat af. Vertel bietjie daarvan. Ja, dit is so. Wit en bruin was in die middedorp bure. Ons was goeie bure en goeie vriende; niemand het mekaar gepla nie. Waar Silwerkruin se hek vandag in Fonteinstraat uitloop, was Tollie Jacobs se haberdashery - knopies, gare, naalde, haarlinte en so meer, kon ons by Tollie se winkel koop. Skraal en fyn was Tollie, op sulke hoëhakskoene. Gereeld en getrou en op haar plek het sy wip-wip in die kerk op die hoek van Kerkstraat, regoor die Moederkerk, ingestap gekom. Dit was voor die dae van apartheid. Ons het, waar ons deurmekaar gewoon het, saam aamblou gespeel, hard gelag en geskreeu, en mekaar "aan" geslaan totdat ons ouers ons in die skemer huis toe geroep het. Dan het ons mekaar herinner: "onthou môre-aand, ons is in".
Jy het ook helder herinneringe van die ou Sendingkerk wat destyds oorkant die Moederkerk gestaan het, daar waar die parkeerterrein vandag geleë is langs die prokureurs. Dit was ’n pragtige gebou in die Hollandse boustyl. Twee vlerke en ’n skip binne. ’n Galery met twee kore, junior en senior, se sitplekke agter in die sitdeel. ’n Duitse orrel, wat asem geskep het deur hom met die hand te pomp, in die een vlerk, voor die konsistorie. En die preekstoel! ’n Ware pragstuk van donker hout. ’n Pragtige gewel voor, en buite, die kerkklok. Daar is die storie van Tollie Jacobs wat gesweer het sy sit nie haar voete in die nuwe kerk nie. En die dag toe Tollie begrawe word, kon die ou lykswa nie stilhou om Tollie behoorlik uit die nuwe kerk te begrawe nie, uit vrees dat dit nie weer aan die gang kan kom nie. Tollie se dreigement is bewaarheid - sy is begrawe sonder dat sy haar voete in die nuwe kerk gesit het !
Jy dra kennis van baie ou gebruik, wat byna as kultuurhistoriese juweeltjies beskou kan word. Wil jy op een of twee uitbrei? Daar is die gebruike rondom lyke en begrafnisse. Vroeër dae het ons die lyk in die huis gehou - twee tot drie dae lank, totdat die begrafnis uit die huis plaasgevind het. As ons iemand met ’n sinkplaat sien hardloop het, het ons geweet. Baie mense het maar altyd ’n sinkplaat gehad. En dan hardloop hulle weer vir bloekomblare. Want so is die lyk bewaar. Gewas, en dan op die bloekomblare, op die sinkplaat onder ’n silwerskoon laken uitgelê. En dan kon die bure kom lyk-kyk. Met ’n sekere oom Ernst se uitlê, was dit vir my so oulik dat hy lank voor die tyd gesorg het vir die sakkie waarin die sout moes kom, en vir die naald waarmee dit toegewerk moes word voordat dit op die naeltjie geplaas is. Sy pragtige wit doodskleed met die kantjies en valletjies om die nek, was ook lankal klaar in die laai. Dis eers later dat die morgues, die lykhuis, in die mode gekom het en lyke vroeg-vroeg uit die huise verwyder is.
’n Mens bespeur tog by jou ’n soort verlange na die ou dae, ook as mens na die titel van jou boekie kyk. Dink jy vroeër dae was beter dae? Wat is jou lewensfilosofie wat vandag nog hou? Ek dink baie kosbare dinge het verlore gegaan -eerbied en respek een daarvan. Een ding is seker: daar is sekere waardes wat waarhede is en waarhede bly, oor geslagte heen. Soos byvoorbeeld om stil te staan as ’n ouer persoon aankom, padgee sodat die persoon kan aanstap en verbygaan. Soos byvoorbeeld wanneer jy sien iemand dra swaar, hardloop om die deur oop te maak, al dink jy nie eers daaraan om te help nie. En om jou skoene of skoolsak nie die donker gang neer te smyt sodat ’n bejaarde daaroor kan val nie. Om vir jou ma "Nag Ma" te sê of ’n môresoentjie te gee. En om ’n ding klaar te maak wat jy begin het. Ja, ek dink nog met nostalgie terug aan ou maniere van dinge doen - ’n tradisionele manier van kerk toe gaan, ou danse, ons vroeëre manier van propose.